Die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg gaan byeenkoms hou met senior rolspelers in die burgerlike samelewing, politieke partye, individue en veral ook regslui en akademici, op 23 Junie 2021 by TLU SA se hoofkantoor in Silverton, Pretoria en sal via Zoom aangebied word. Organisasies, politieke partye en belangegroepe gaan standpunt neem oor voorgestelde vuurwapenbeheer wetsontwerp.
Verskeie groepe in die land is onrustig oor die voorgestelde vuurwapenwetsontwerp wat neerkom op onteiening van vuurwapens. Gevolglik het lede van die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg die noodsaak besef vir ʼn uitgebreide byeenkoms om die saak te bespreek.
Luister Hier:
Die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg is ʼn informele groepering van organisasies, georganiseerde landbou en landbouverteenwoordigers, burgerlike en burgerregte instellings, opposisiepartye en akademici sowel as geloofsinstellings. Die groep vergader gereeld om enige beleidsraamwerke wat eiendomsreg mag skaad of ondermyn, te bespreek en onderlinge standpunte, aksies en inisiatiewe te oorweeg.
Die voorgestelde wysigings aan die Vuurwapenbeheerwet is op 19 Mei 2021 vir kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer, en bepaal dat selfverdediging glad nie meer aangevoer kan word as ‘n rede waarom jy ’n vuurwapen wil besit nie. Daarom word die Vuurwapenbeheer Konsepwetgewing gesien as nog ʼn aanslag op eiendomsreg en in die geval is dit vuurwapen onteiening van Suid-Afrikaanse burgers.
Wanneer enige eiendomsreg bedreig word hetsy dit grond of vuurwapens is, moet dit op dringende basis hanteer word en word alle inisiatiewe om die drakoniese aard van die wetgewing uit te lig verwelkom. In die verband was daar reeds verskeie byeenkomste, en in die komende week sal ander byeenkomste, afgesien van ons eie gesprek, ook plaasvind. Dit is almal ondersteunend en aanvullend tot mekaar.
Luister en Lees ook: Agterstand van 250 000 Vuurwapenlisensie Aansoeke sal Waarskynlik Nooit Verwerk Word nie Aangesien die Vuurwapenregister Totale Chaos is!