Die hoofdoel van die polisie is om alle inwoners van die land te beskerm en ten tye van nood, behulpsaam te wees, om wet en orde te handhaaf en misdaad te bestry. Maar huidiglik sien en ervaar al hoe meer wetsgehoorsame burgers, al hoe minder van die bogenoemde. Die burgers van die land leef inteendeel toenemend in vrees vir die polisie, ons ervaar by meer en meer geleenthede, waarby dit voorkom asof die polisie nie in ‘n posisie is, of die politieke wil het, om anargiste en woedende skares te beteuel nie. Ons het onlangs gesien wat in Piet Retief plaas gevind het, buite en binne die hof, waar vyf onskuldige boere beskuldig word van die moord op twee mans.
Buite die hof het oproermakers die polisie met klippe bestook, op ‘n klopjag gegaan en groot skade aan verskeie private voertuie aangerig. Daar is verneem dat polisie min gedoen het om hierdie slagoffers by te staan. Hulle het wel soms rubber koeëls gebruik om die skare te verjaag, maar blykbaar sonder veel sukses. In meer en meer gevalle wil dit voorkom asof die polisie hierdie vorms van misdaad onwillig aanvaar as ‘n manier waarop mense hul misnoeë of ontevredenheid kan uitspreek. Wat egter ‘n feit is, is dat hierdie gebrekkige optrede daartoe bydra om die beskuldigdes se kans op ‘n regverdige verhoor, in die proses ernstig benadeel.
Luister Hier:
Kyk net wat het gebeur in die Coligny-saak en meer onlangs die Senekal-saak. In die Coligny-saak is Peter Doorewaard en Philip Schutte onskuldig bevind ná ‘n lang onregverdige verhoor, terwyl oproeriges tydens hul verskyning ook gevra het dat hulle nie vrygelaat word nie. In Senekal het gemoedere oorgekook oor die wrede moord op Brendin Horner. In plaas daarvan dat die minister van polisie, Bheki Cele, hom by die boere skaar, het hy olie op die vuur gegooi en gesê dat die boere se optrede skokkend en walglik was nadat ‘n Nyala-polisie-voertuig omgeslaan is. Minister van justisie, Ronald Lamola, kon ook nie vinnig genoeg na die boere verwys, en het hul optredes beskryf as ‘anargistiese geweld’ wat nie geduld kan word nie.
Verlede week het ontevrede studente van die Walter Sisulu Universiteit vir Tegnologie ‘n Nyala-polisie-voertuig aan die brand gesteek uit protes. Nou is die vraag, waar is die twee agbare ministers nou, om dit te veroordeel?
Hulle brand die land, kyk hoe lyk ons dorpe, geen stasie, geen spoorlyne, geen paaie, geen skole, geen werk, geen krag, geen lug dienste, moorde en nogmaals moorde, verkragtings, meer en meer stelery, trokke work gekaap en besteel, blankes word aangekla, polisie maak valse verklarings, en aan en aan…
Suid-Afrika se regstelsel is tans baie broos en gewone mense hou asem op, om te sien hoe lank regverdige beslissings en geregtigheid nog sal geld. Dubbele standaarde is aan die orde van die dag. ‘n Dag van onheil wag vir Suid-Afrika en sy burgers as beide die ANC regering en Cyril Ramaphosa, eenvoudig voortgaan met hul ras gedrewe ideologie: waar minderhede toenemend verguis word, blatant ongelyk en as tweedeklas burgers behandel word. Iewers gaan ‘n damwal breek en êrens gaan gewone burgers hulle teëstaan. Ons hoop teen hoop dat ons die eerste tekens hiervan sien, hopelik nog vanjaar by die stembus, in die plaaslike verkiesing.