Die Italiaanse energiemaatskappy Eni het Maandag beweer dat ‘n buitelandse gasprojek in die noorde van Mosambiek, wat deur die ISIS geweld getref is, steeds op dreef is om, ondanks die onrus, in 2022 te begin werk, maar daar bestaan twyfel oor die lewensvatbaarheid van eksplorasie-terreine vir vloeibare aardgas (LNG) buite Afungi-skiereiland in Mosambiek, sedert militante die kusdorp Palma in Maart aangeval het.
Die dodelike klopjag op die operasionele middelpunt van die projekte, het die Franse oliereus Total genoop om die werk aan ‘n massiewe LNG-projek van $ 20 Miljard (R284 miljard) – die grootste enkele belegging in Afrika – op te skort en ‘n ‘force majeure’ te verklaar en alle personeel te ontruim.
Luister Hier:
Maar Eni, wat in 2016 sy eie LNG-projek in die gebied van stapel gestuur het, het gesê dat die opstand nie hul bedrywighede beïnvloed het nie. “Die aanvang van die Coral South-projek word volgens die skedule in 2022 bevestig,” het ‘n woordvoerder van Eni Maandag aan AFP gesê in ‘n e-pos op ‘n navraag sonder om meer besonderhede te gee.
Die voltooide projek bestaan uit ses onderwaterputte wat gekoppel is aan ‘n drywende LNG-aanleg met ‘n produksiekapasiteit van 3,4 miljoen ton, volgens Eni se webwerf. Al die gas wat op die perseel geproduseer word, moet aan British Petroleum verkoop word.
Mosambiek het groot verwagtinge gestel op groot aardgasreserwes wat die afgelope paar jaar in sy provinsie Cabo Delgado ontdek is, wat groot internasionale maatskappye lok. Die Amerikaanse reus Exxon Mobil het ook in die gasprojekte belê, wat altesaam $ 60 miljard (R854 miljard) werd is.
Maar toenemende aanvalle deur militante wat aan die Islamitiese Staat gekoppel is, het verdere besorgdheid oor veiligheid laat ontstaan sedert dit die eerste keer in 2017 geloods is. ISIS is welbekend daarvoor dat hulle olie of gas aanlegte beset om hul Islamitiese oorlog te befonds.
Die aanval op Palma op 24 Maart het net tien kilometer van die lewensaar van Total se LNG-projek getref, selfs al het die regering herhaaldelik belowe om die terrein te beskerm. Die maatskappy het reeds werkers ontruim en die konstruksie in Januarie opgeskort ná ‘n reeks klopjagte in die omgewing, en het nog nie aangedui wanneer sy bedrywighede hervat sal word nie.
Maar dit is seker dat ISIS weer sal toeslaan.